Jy is geliefd

Diep in jou hart van harte, glo jy dat Jesus jou werklik liefhet? Is dit vir jou moeilik om te verstaan dat die God wat hemel en aarde gemaak het, besorg is oor JOU?

Jy is nie alleen as jy so voel nie – baie van ons sukkel juis met die idee dat God ons onvoorwaardelik liefhet. Die idee dat ons nie God se liefde kan of hoef te verdien nie, is vir die meeste van ons ’n vreemde gedagte. Ek dink dit is omdat ons Sy liefde in menslike terme probeer verstaan. En ons menslike manier van liefhê kom ver kort van God se manier.

Ons verhoudings word juis gebou op verdienste. Ons liefde vind uitdrukking in terme soos “as” of “dalk” en “omdat”. As jy dit vir my doen, sal ek jou liefhê. Wanneer jy jammer sê, sal ek jou dalk vergewe. Omdat jy dit gedoen het, is ek lief vir jou.

Dit is vir die meeste van ons moeilik om te begryp dat daar enigsens iets bestaan soos onvoorwaardelike liefde. God wil nie net hê dat jy moet glo dat so ’n liefde ’n werklikheid is nie, maar dat Hy ons met so ’n liefde liefhet.

God se gedagtes en intensies aangaande jou is om jou te seën, dit is altyd vir jou voordeel en nie tot jou nadeel nie (Jer 29:11, Jak 1:17). God is aan jou kant. Hy is vir jou en nie teen jou nie. Maak nie saak hoe sleg dit om jou lyk nie, Hy wil die beste hê vir jou. Vertrou op Sy liefde. Alhoewel God heilig en almagtig is, is Sy hart oop vir ons. Hy wil ons vriend wees. Hy is barmhartig en vriendelik teenoor ons.

God ken ons smarte en Hy verstaan ons pyn. Die Heilige Gees word die Trooster genoem. Want Hy troos ons ongeag waardeur ons gaan. Jesus het gehuil toe Lasarus gesterf het. God is nie ’n standbeeld met ’n hart van klip nie – alles behalwe. As ons huil, dan huil God saam en as ons lag, dan lag Hy saam.

In my eie lewe val ek soms vir die leuen dat God my meer liefhet wanneer ek reg optree. Ek sal party keer dink dat Hy my meer liefhet omdat ek Bybel gelees het of die dag meer gebid het. Dit is ’n leuen uit die put van die hel. God se liefde word nie verdien nie. God se liefde is onveranderlik. Of ek ’n “goeie” Christen is of ’n “vrotte”, Hy bly dieselfde lief. Daar is natuurlik voordele en nadele vir ons gedrag , maar dit affekteer nie God se liefde nie.

Die Bybel sê in Sefanja 3:17 dat God oor Sy mense sing. Hy geniet ons! Ons is vir Sy plesier gemaak.

“…maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” – Rom 5:8 

Hy het nie Sy Seun laat sterf aan die kruis vir heilige mense nie, maar vir my en vir jou – ja, vir JOU. Dit is hoe ons weet dat Jesus ons liefhet: Hy het die prys betaal om ons vry te koop van die gevolge van sonde, naamlik die hel. God se liefde is groter as enige swakheid van jou. Sy liefde is ewig en trou. Sy liefde is verniet en onvoorwaardelik.

Kom ons hou om God se liefde te probeer verdien. Kom ons lewe heilig en getrou aan Hom – nie omdat ons Sy liefde probeer verdien nie, maar omdat ons geliefd IS.

Share and Enjoy !

About the author

Comments

  1. Amen… God se liefde is so volwasse volmaak..!!
    As ons net kan besef hoe lief Hy ons regtig het, sal ons soveel rus kan vind in ons hart, en net vertrou op Hom..!!
    Hy ken dié wat op Hom vertrou en Hy sorg vir hulle… Nahum 1:7 (NKJ)

Leave a Reply to Susan Hammer Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *