Families in die Spervuur

Die familie-struktuur is deesdae baie in die spervuur en ons as ouers is ongelukkig nie altyd bewus daarvan nie. Kyk maar na films vandag en hoe die ouers uitgebeeld word teenoor kinders.

Ek het onlangs ’n fliek met die naam “The Croods” gekyk. Aanvanklik het ek dit baie geniet – met tye was dit skreeusnaaks. Maar dan sien jy hoe die familie uitgebeeld word en jy kan nie help om te wonder wat die regisseurs wil kommunikeer deur hierdie rolprent nie. Die pa is outyds en soms eenvoudig verspot, die ma het geen opinie van haar eie nie, die boetie is nes sy pa (nie baie skerp nie), kleinsus is soos ’n wilde dier en dan is daar natuurlik ouma wat van lotjie getik is. Al die wysheid wat die jong tienermeisie, Eve, nodig het, kan sy by haar nuwe tienervriend kry. Hy is dan ook die held en redder van die familie. Wanneer rolprente jou ouers en gesin uitbeeld as oudmodies en onnosel, en jou vriende as wys,dan dink ek het ons ’n probleem.

Ons almal gaan deur ’n rebelse stadium waar ons nie lekker met ons familielede identifiseer nie. Al wat ons wil doen is om by ons pêlle uit te hang en soos hulle te lyk en te praat. Geen tiener het ’n fliek nodig om hulle te vertel dat hul ouers idiote is en dat die antwoorde van die lewe by hul vriende lê nie. Dit is net eenvoudig sleg en baie onverskillig van hierdie tipe films. En moenie dink The Croods is die enigste van sy soort nie. Dit is deesdae die algemene narratief van familie flieks.

Ons as ouers is reeds in ’n stryd gewikkel net met die normale dinge van die lewe. Daar is altyd een of ander ongemanierde buurman of slegte baas by die werk om mee te reken. En dan praat ons nie eers van die misdaad of rassisme in ons land nie. Die uitdagings daar buite is soms hewig. Maar die grootste en belangrikste kwessie waarvoor ons te staan kom, is ons kinders se opvoeding. Om ’n ouer te wees, is ’n Goddelike roeping. Ons sien dit soms soos ’n hindernisbaan wat ons net te bowe moet kom, maar in realiteit is dit ’n voorreg wat baie geduld en harde werk verg.

Ek glo met my hele hart dat God wil hê ons moet slaag as ouers. Ek dink Hy wil persoonlik betrokke wees in die lewens van ons kinders. En in my opinie is dit die eerste strategie wat ons as ouers kan toepas: om God in te nooi in die grootmaak proses van ons kinders. Bid elke dag vir wysheid en geduld om hulle groot te maak in die weë van die Here.

Die tweede strategie is om God se Woord te inkorporeer. Leer jou kinders die Bybel. Ek persoonlik verkies stadig maar seker, eerder as om hulle oor die kop te moker. Skriflesing voor slaap- of etenstyd is ’n goeie en effektiewe tradisie. Plaas ’n teksvers op ’n prominente plek waar jou kinders dit elke dag kan sien. Gebruik jou kreatiwiteit om God se Woord by jou kinders in te skerp.

En laastens: wees lief vir hulle. Ons is geroep om ander mense lief te hê – dit sluit jou kinders in! Om net na hul fisiese behoeftes om te sien, is nie genoeg nie. Jy moet jou liefde aan hulle kommunikeer deur woorde sowel as dade. Moet dit nie net sê nie, wys dit ook. Druk jou kind ’n bietjie teen jou bors vas. Wees geduldig. Wees bemoedigend.

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *