Skyn Sy lig!

Roof! Moord! Verkragting! Leuens! Rassisme! Ontrouheid! Selfsug! Korrupte politici! Dit voel soms soms vir my of die wêreld mal geword het.

Wanneer ek dink aan die wêreld om my, dan kom die woord “duister” by my op. Dit is ‘n donker en ongevoelige omgewing waarin ons woon. Ons is omring deur mense met slegte ambisies. Hul enigste begeerte is om te plunder en te vernietig. In die media word losbandigheid en gruwel dade vertoon asof dit die standaard is. In talle rolprente en selfs reekse is die boef die held en die paartjie wat mekaar so pas ontmoet het, spring sommer in die bed. Onskuldige, goeie vermaak is bitter skaars. Dit is angswekkend hoe die duisternis ons gemeenskap oorrompel het.

Watse hoop het ons in hierdie donker wêreld? Waar gaan ons opeindig as dit so aanhou? Daar is hoop – die antwoord vir duisternis is die lig. Jy sit eenvoudig die lig aan. Jy sit nie die swart lig af nie, jy sit die wit lig aan. Ons dink altyd aan duisternis as “iets”. Donkerte is egter nie iets nie, dit is die afwesigheid van lig.

Lig, aan die anderkant, is iets. Die slimkoppe met dik brille en wit jasse noem lig “fotone”. Dit is iets wat gemeet kan word. Bring lig in die situasie en duisternis moet weggaan. Die Lig was gebore in ‘n stal 2000 jaar terug. Die Bybel sê Jesus is die lig van die wereld, maar die wêreld het dit verwerp (Joh 1:4-11). Maar die storie eindig nie daar nie. Elf dissipels het daardie lig verder gevat en dan was daar mense soos Paulus en Silas, wat ook ligdraers was. Die wêreld het hulle ook almal vervolg en selfs doodgemaak, net soos vir Jesus. Maar jy kan nie die lig uitblus nie en deur die eeue het die lig bly skyn.

Die vraag is: wat maak ons vandag met daardie lig? Sal ek en jy getrou wees soos die apostels van ouds of sal ons oorgee aan die duisternis? Ek hoor jou vra: “Charles, hoe doen ek dit? Hoe skyn ek die lig in my buurt of by my werk? Of selfs by die skool of in my huwelik?”

Ek glo die antwoord is te vinde in die groot gebod wat Jesus vir ons gegee het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (Matt 22:37-39)

Die eerste stap om die lig te skyn, is om die lig lief te hê. Hoe kan ons Sy lig in die donker skyn as ons nie eers van die lig hou nie? Ontwikkel ‘n passie en ‘n onverskrokke liefde vir Jesus en laat toe dat Hy Sy lig in jou hart skyn. Tweedens moet ons ons naaste liefhê soos onsself. Begin met die mense wat naby jou is: jou vrou, jou kinders, jou ouers en familie, daarna jou vriende en werkskollegas en dan die broers en susters in jou kerk. Leer om hulle waarlik lief te hê.

Laastens moet ons leer om die donker wêreld ook lief te hê. Hulle sal jou heel moontlik nie terug liefhê nie, maar Jesus het vir ons die voorbeeld gestel om hulle in elk geval lief te hê. 

Kom ons wees soos Jesus en skyn Sy lig oral waar ons gaan.

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *