As jy nie jou sin kry nie

Het jy geweet, dat God se Woord partykeer vir jou gaan sê om A te doen, dan sê jy nee, jy wil B doen? Jy gaan moet leer dat maak nie saak wie jy is nie, jy gaan nie altyd jou sin kry nie. Jy kan selfs die baas wees van ‘n werksplek en jy gaan nie altyd jou sin kry nie, want partykeer gaan iemand jou CCMA toe vat en jy gaan daai saak verloor. Het jy geweet al is jy die pa van die huis, gaan jy nie altyd jou sin kry nie? Jy gaan partykeer daai tiener kry wat net omdraai en sê “nee!” Jy kan selfs daai tiener wees wat altyd jou sin kry, maar daar gaan ‘n dag kom wat jy net nie jou sin gaan kry nie. Ek is die pastoor en ek kry nie altyd my sin by die kerk nie! En dis eintlik ‘n goeie ding want dit gaan oor God se wil en die rigting wat Hy wil hê ons moet ingaan. Maar party mense gaan moet leer dat jy nie altyd jou sin gaan kry nie. Dis hoe dit werk.

Ons reaksie wanneer ons nie ons sin kry nie, is dikwels: “Ag, ek gaan dit sommer net los, ek gaan dit op my manier doen”. Jy kan Whatsapp los, jy kan Facebook los, jy kan selfs jou werk los. “Pastoor, ek gaan bedank, want dit werk nie uit soos ek wil hê nie, ek is nie gelukkig daar nie, ek sal hulle wys.” Vier maande later: “Pastoor, kan jy asb vir my bid vir werk?” Waar het jou eie sin jou gekry? Jou eie sin gaan partykeer moeilikheid vir jou maak.

Dít wat mense wil hê, is dikwels baie anders as God se wil. Jy kan jou kerk los, jou werk los, jy kan selfs jou familie los. Jy kan besluit om met niemand te gesels nie. Maar ek gaan jou een ding sê: as God se Woord sê “gaan links” en jy gaan regs, agtertoe of vorentoe, of jy staan stil, gaan jy ‘n prys betaal. As God se Woord sê iets is blou dan is dit blou, nie ligpienk, geel, groen, wit of grys nie.

En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word… – Luk 12:47

As God se Woord vir jou gesê het om iets te doen, dan maak dit nie saak hoe hard jou kop is nie – jy gaan ‘n prys betaal. Ons gaan moet leer – dis nie jou wil nie, maar God se wil. Ons gaan moet leer om minder te word en God meer te maak in ons lewe. Jy moet jouself verneder onder die kragtige hand van God sodat Hy jou kan verhoog. Trane gaan jou nie help in die dag van oordeel nie.

Jy gaan op ‘n plek moet kom waar jy jou hardkoppige nonsens in jou sak druk. Daar is mense wat nou hier lees en jy wil vir almal wys dit pla jou nie, maar ek sal bang wees as ek jy is, want onthou: there’s only one way and it’s God’s way. En as jy dit nie op God se manier doen nie, gaan jy ‘n prys betaal, en daardie prys gaan vir ewig wees. Wees gewaarsku.

Weet jy waar moet jy hardkoppig wees? By waardes. God se waardes.

Of ek saamstem en of jy saamstem, of ‘n miljoen ander mense in hierdie wêreld saamstem – dit gaan nie God se Woord verander nie. God se Woord is die enigste manier.

(Foto: https://unsplash.com/photos/cDjVQiBxiMc)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

For security, use of Google's reCAPTCHA service is required which is subject to the Google Privacy Policy and Terms of Use.