Lewe soos Jesus

Ek het ’n tendens opgemerk wat my ’n bietjie koud laat: die feit dat almal altyd besig is. Selfs kinders is so besig met skool, huiswerk, sport en ander buitemuurse aktiweiteite dat hulle nie eers meer weet hoe om te speel nie.

Ook in die kerk het ons slawe geword van programme. En daar is besprekings oor wie se predikant die beste spreker is en watter kerk die beste Sondagskool of die beste lof-en-aanbiddingspan het. Die probleem met hierdie volstoomse gejaag is dat jy op ’n stadium ’n spoedhobbel of slaggat gaan tref… en die eindresultaat is nerf-af mense met stukkende harte. So wat staan ons te doen in hierdie vinnige tempo wêreld waar tweede plek nie ’n opsie is nie?

Ek glo dit het te doen met perspektief. Hoe sien jy die lewe? Is dit regtig so belangrik om die beste te wees in dit wat jy doen? Miskien moet dit eerder gaan oor VIR wie jy dit doen. Leef jy jou lewe vir Jesus of vir status? Vir Sy eer of dalk vir jou eie ego?  Gaan kerk oor ’n preek en hoe ’n goeie spreker die predikant is, of gaan dit om ’n boodskap van God te ontvang? Gaan dit oor “lekker” musiek en hoe professioneel die orkes is, of gaan dit oor ’n hart wat God loof en aanbid met oorgawe? Help ons die armes om minder skuldig te voel of gee ons regtig om soos ons Jesus? Wat is die motief agter die daad?

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ons moet uitmuntend wees in alles wat ons doen en verál as ons dit vir die Here doen. Jesus verdien immers net ons beste! Maar ek dink ’n mens kan ook van tyd tot tyd stop en die lewe geniet. Ek is nie in ’n kompetisie met enigiemand anders nie.

My persoonlike oortuiging is dat ons ons lewens moet leef VIR Jesus, maar ook SOOS Jesus. En wat ek hiermee bedoel, is dat ons mense moet hanteer soos Jesus hulle hanteer het. Ons moet bid soos Jesus gebid het. Dit wil vir my voorkom of die kerk iets vergeet het wat Jesus baie gedoen het: Hy het saam met gewone mense uitgehang. Hy het saam met mense gekuier en geëet (Mark 2:15, Joh 12:1-2, Matt 9:10, Luk 5:29). Hy was nie net altyd besig nie. Jesus het Sy hemelse Vader geëer deur Sy bediening, maar ook deur om die lewe saam met Sy mense te geniet.

Ek dink ons is mislei deur te glo dat ons lewens betekenis het wanneer ons besig is of die beste is. Maar ek wil aan jou voorhou dat ons lewens saakmaak wanneer ons vir Christus leef sáám met ander mense.

En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. – Hand 2:42

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *