Jou kosbaarste besitting

Die kosbaarste besitting wat ek het, is presies dieselfde as wat jy ook het. Kan jy raai wat dit is?

Tyd – ons het almal ewe veel tyd. Wat ons egter maak met daardie tyd, is wat ons van mekaar onderskei. As jy te veel tyd spandeer aan een ding, verloor jy noodwendig tyd op ‘n ander plek. Byvoorbeeld die pa wat baie by die werk is en nooit by die huis is nie.

Dit is absolute gekheid om al jou tyd te spandeer in een area van jou lewe. En daar is natuurlik seisoene in ons lewens. Byvoorbeeld ‘n mamma met ‘n baba moet meer tyd aan haar kind gee as die mamma met ‘n seun in die hoërskool, dit is tog logies. Dit is goed om iets nuuts te leer, maar iemand wat op universiteit is sal meer tyd spandeer om te studeer as iemand wat in sy middeljare is. So hoe ons ons tyd spandeer, word deur baie faktore beïnvloed. Maar as ons eerste dinge eerste stel, dan sal ons makliker ons tyd kan bestuur.

Wat help dit tog as jy ryk is, maar geestlik arm? Of watse nut is daar in rykdom as jy ‘n vrot huwelik het? Jy sien, ek en jy word deur ons omgewing geforseer om ons tyd onwys aan te wend. Kom ons begin by die begin. Die Een wat tyd geskep het, het ook van jou tyd nodig. En ‘n Sondag kerkdiens is net eenvoudig nie genoeg nie. Ontmoet daagliks met God, al is dit net vir ‘n paar minute. Bid ‘n bietjie meer en lees Sy Woord aandagtig deur elke dag. Hy verdien dit. Hy het nie net vir jou die tyd gegee en die asem en die krag nie. Hy het ook Sy liefde aan jou gedemonstreer deur in jou plek te sterf. Die minste wat jy kan doen is om aan jou verhouding met die Here te werk.

Daarna is dit belangrik om tyd te spandeer met jou vrou of man. Laat hom of haar verstaan dat jy lief is vir hulle. Moenie jou lewensmaat afskeep nie – dit eindig nooit goed nie. En dan natuurlik moet jy ook tyd saam met jou kinders spandeer. Skep geleenthede waar jy interaksie met hulle het. Speletjies aande waar julle as gesin saam Monopoly of Uno speel, is ‘n goeie idee!

Dan is dit ook goed om soms tyd eenkant te sit vir ander familie en vriende. Mense wat vir jou kosbaar is, maar hulle het nie noodwendig so baie van jou tyd nodig soos bv. jou kinders nie.

En ja, jy moet ook tyd allokeer vir werk. Hier gaan ek nie baie sê nie behalwe dat wanneer jy werk, doen dit voluit. En natuurlik is daar ook ‘n plek vir oortyd, maar dit moet nooit tyd steel by die Here of jou gesin nie.

Laastens en ek glo dit is geweldig belangrik, moet jy ook tyd aan jouself spandeer. Doen iets waarvan jy hou soos rugby kyk of visvang. Miskien is jy ‘n boekwurm of jy is lief daarvoor om met die hond te gaan stap.

Wanneer ons ons tyd reg aanwend, dan beleef ons sukses in alle areas van ons lewens. Ek en jy het ‘n verantwoordelikheid om ons tyd goed te bestuur.

Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. – Efésiërs 5:15-16

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *