Die Krag van Bemoediging

Het jy al gevoel asof niks goed genoeg is nie, niks wat jy doen of sê nie? Dis dalk by die werk of by jou huis. Maak nie saak wat jy doen nie, dit is net eenvoudig nie goed genoeg nie. Dalk probeer jy vriende maak by die kerk, maar jy kom net nie reg nie. Of dit is dalk jou baas wat net eenvoudig nie omgee nie, behalwe as jy iets verkeerd doen, en dan hoor jy weer nie die einde daarvan nie.

Dit is asof almal gerat is om net negatief te wees. Praat maar ‘n bietjie met jou vriende en jy sal hoor dit is te warm of dit reën alweer. Of hy kla oor sy werk of sy vrou of sy kar wat alweer nie vanoggend wou start nie.

Negatiwiteit is oral, maar in die tyd van die vroeë kerk was dit soveel erger. Jy het vir jou geloof geboet met jou lewe. As jy skuldig bevind was dat jy ‘n Christen is, is jy tronk toe (as jy gelukkig was!), anders het hulle jou tereggestel. Praat van ‘n negatiewe omgewing! En dit is in hierdie konteks wat Paulus vir die Thessalonicense sê: “Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen (1Thes 5:11). Ek en jy woon nie in ‘n land waar Christene vevolg word nie, maar die duiwel werk ook hier en hy is doenig onder die kinders van die Here. As hy ons kan moedeloos maak en hy kan ons kry om op te hou probeer, dan wen hy.

Dit is soms baie moeilik om positief te bly in ‘n wêreld wat negatief is. Maar ek het iets ontdek in God se Woord en vandat ek dit toepas, doen ek beter. Dit is die opdrag wat God aan Sy kinders gee: bemoedig mekaar en bou die een die ander op. As ek fokus om my broer/suster in die Here op te bou en te bemoedig, dan gaan dit beter met my. In die proses bou ek myself ook op.

Koms ons begin kyk na praktiese maniere om mekaar op te bou. Ons het al almal gevoel dat dit die einde van die wêreld is, maar dan kom iemand onverwags en hulle gee ons ‘n kompliment of ‘n drukkie en dan sien ons sommer weer kans vir die lewe. Al wat ek wil voorstel, is dat ek en jy intensioneel en doelgerig sal optree met ons vermoë om mekaar te stig.

Kom saam met my op hierdie ongelooflike reis om ons boeties en sussies op te bou vir Jesus.

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *