Die God wat huil

Smart is soms te diep om te beskryf
Nie eers trane kan die rou en die seer verdryf
Ek voel alleen, leeg en moedeloos
So alleen, bang en baie broos
My krag is min
My krag is min
(Juanita du Plessis) 

Teleurstelling. Die dood. Egskeiding. My een vriendin noem laasgenoemde ‘n “gesneuwelde” huwelik. Wat ’n raak manier om dit te beskryf! ‘n Slagveld. ’n Mens stap nie heel anderkant uit nie. Inteendeel. Jy is vodde. Flenters.

Om een of ander rede dink ons soms dat God apaties staan t.o.v. ons seer. In die eerste plek kon Hy dit tog gekeer het. Hoekom het Hy dan nie??? Aan die ander kant sien ons Hom as die een wat Sy emosies beteuel. Statig. As dit jou prentjie is van God, hoop ek om jou vandag te kry om bietjie anders na Hom te kyk.

Dink jy miskien God put genot daaruit om mense hel toe te stuur? Dink jy vir een oomblik dis vir Hom lekker? “En toe (Jesus) naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.” Luk 19:41-42 Ek wil jou verseker, dit breek God se hart dat mense nie Sy groot geskenk, die Ewige Lewe in Christus Jesus, wil aanvaar nie.

2 Kor 1:3 praat van God as “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting”. Wie beter om te vertroos, as iemand wat self weet hoe dit voel om hartseer te wees? Ons sien in Jesaja 53 dat Jesus ’n man van smarte en bekend met krankheid was. In Matt 26:38, toe Jesus in die tuin van Getsémané gaan bid het, sê Hy vir Sy dissipels: “My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.”

Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel…. Jesus het geween. – Joh 11:33, 35

Teoloë het al baie kop gekrap oor hierdie laaste Skrif. Hoekom het Jesus geween as Hy geweet het dat Hy vir Lasarus uit die dood sou opwek? Liewe leser, ek het die afgelope 10 jaar meer begrafnisse bygewoon as wat ek kan tel. Die meeste van die tyd wéét ek waarheen die afgestorwene is. Ek wéét daar is ’n wonderlike lewe na die dood vir diegene wat in Christus ontslaap. Maar elke keer, sonder uitsondering, word ek diep geraak en word ek weer herinner dat die dood ons vyand is. Dit maak nie saak of ’n mens weet die persoon is op ’n beter plek, sonder enige pyn en lyding nie, die dood bly ‘n afgryslike, vieslike ding. Ek dink Jesus het dit ook so ervaar.

Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie, of Hy wat die oog formeer, nie sien nie? Psalm 94:9  Nou wil ek jou vra, sou Hy wat jou emosies gemaak het, dan self geen gevoelens hê nie? Liewe leser, God staan NIE afsydig t.o.v. jou seer nie. Moet nie vir een oomblik die leuen van die vyand glo dat God nie omgee nie. Nee, dit raak Hom selfs méér as vir jou!

Ek het nie vir jou antwoorde op jou “hoekom?” vrae nie. En ek wil ook vir jou sê dat tyd nie seer genees nie. Maar God doen. Hy verstaan, Hy voel saam met jou, en daar kom ’n dag wanneer Hy self die trane van ons oë sal afvee (Openb 21:4).





(Foto: https://unsplash.com/photos/NPmR0RblyhQ)

Share and Enjoy !

About the author

Comments

  1. Dankie vir jul getrouheid om so gereeld jul insigte te deel..
    Hierdie is ‘n Kragtige Boodskap, wat beslis met die hart praat, en mens net weer laat dink oor “hoe hard ons soms dink God is”, maar tog weet ons uit die skrif uit, Hy is glad nie hard en ongevoelig teenoor ons situasies en belewenisse nie….inteendeel, Hy het meer empatie met die mens as wat ons as mens selfs met mekaar het…
    As ons maar net Sy liefde werklik kan verstaan…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

For security, use of Google's reCAPTCHA service is required which is subject to the Google Privacy Policy and Terms of Use.