Wat is jou waarde?

Toe ek ’n jong seun was, het ek altyd gedink daar is iets fout met my. Ek het nie baie aandag by my ouers gekry nie, tensy ek iets verkeerd gedoen het… en dan het ek sommer baie aandag gekry! Ek het gewoonlik my eie ding gedoen en my by my eie sake bepaal. Selfs by die skool het ek nie presteer nie en was nooit die beste in enigiets nie. Op ’n manier was ek altyd tweede of derde. Ek was nie juis talentvol nie, my familie was nie ryk nie en ons het in die verkeerde area aan die verkeerde kant van die treinspoor gebly.

Ek het dus grootgeword met ’n ietwat verwronge selfbeeld. En meeste mense doen, selfs dié wat grootword in die beter areas van die dorp, selfs diegene wat talentvol is. Daar is altyd dinge waarmee jy nie goed is nie, en dis presies hierdie dinge wat ander mense op sal hamer. Hulle sal jou nie vertel hoe goed jy is nie, maar eerder klem lê op die dinge wat jy nie kan doen nie.

Toe ek egter ’n Christen word, het iets verander. Ek het besef dat as God gewillig was om die prys vir my te betaal, dit my soort van spesiaal maak. Vandag weet ek dat ek spesiaal was selfs voordat ek gered was. Die Bybel sê in Genesis dat God die mens in Sy beeld geskape het en Psalm 8 verklaar dat ons (en dit sluit elke liewe mens in) die kroon van Sy skepping is. So as ek God se beelddraer is, beteken dit dat ek groot waarde het. Selfs as ek geen talent, geld, satus, vriende of familie het nie, is ek wesenlik waardevol omdat ek Sy beeld dra. En dit sluit JOU in!

Dit sluit egter my buurman ook in, asook die persone wat minder as ek het of minder talentvol is as ek. Hulle het ook wesenlike waarde omdat hulle geskape is deur ’n liefdevolle God, na Sy beeld en vir Sy eer. Dit sluit natuurlik ook mense in wat as sleg beskou word, soos misdadigers. Dit beteken nie dat hulle nie moet betaal vir hul verkeerde dade nie, maar dit beteken dat hulle ook groot waarde het.

Maar die meeste van ons dink dat ons nietig en onbelangrik is. Dit verstom my hoe baie mense sal praat oor “red die renosters” of “red die walvisse”, maar sal sê dat dit oukei is om ‘n aborsie te hê – so asof ’n kind nie meer werd is as ’n dier nie. Ons as mense is waardevoller as enige ander deel van God se skepping.

My vraag aan jou is: hoe verander hierdie openbaring van hoe God jou sien, jou selfbeeld? Hoe verander dit jou siening die persoon wat langs jou bly? Dit behoort ‘n effek op almal van ons te hê in terme van hoe ons onsself beskou en ook hoe ons die mense rondom ons hanteer.

(Foto: https://unsplash.com/photos/B9N22h2s0to)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *