Lewe jy in vrees?

Dis vir my verstommend hoe min Christene die Skrifgedeelte glo wat sê: “Groter is Hy wat in ons is, as hy wat in die wêreld is.” (1 Joh 4:4). Ek praat van wedergebore kinders van die Here wat nie glo dat God groot genoeg is nie. Ons leef in vrees. Ons is bang vir misdaad. Ons is bang vir kanker en allerhande siektes. Ons is bang vir die politieke toestand in ons land. Ons is bang daar gaan ’n oorlog uitbreek tussen die swart mense en die wit mense en dat ons gaan seerkry.

Maar die Bybel is duidelik dat God klaar oorwin het. Ons leef nie in wanhoop nie, ons het juis hoop! Want maak nie saak wat die wêreld na ons kant toe gooi nie, ons gaan elke keer kan wen. Gaan dit seer wees? Natuurlik. As iemand by jou huis inbreek en jou goed steel, maak dit seer. Maar daar is ’n antwoord. Die Bybel sê maak jou skatte bymekaar waar die dief dit nie kan bykom nie. Met ander woorde, maak skatte bymekaar wat waarde het tot in die hiernamaals. Byvoorbeeld jou geloof. As jy jou geloof bou en koester en ontwikkel – niemand kan daaraan vat nie. As jy iemand na die Here toe lei; as jy ’n goeie man is vir jou vrou; as jy ’n goeie, goddelike mamma is vir jou kinders – niemand kan hierdie dinge wegvat nie. Die vyand kan nie daaraan raak nie.

Ek verstaan daar is rasse haat en al hierdie dinge in ons land, maar die liefde oorwin haat elke keer. Ons moet as Christene (let wel: nie as wit mense nie, as Christene) selfs ons vyande liefhê. Dis nie ek wat dit sê nie, die Bybel sê so. En liefde sal oorwin. En dis hoe die wêreld sal sien dat ons Sy dissipels is: as ons mekaar liefhet. Maar ons kan nie eers iets goeds sê van die kerk of van mense in die kerk nie. Hoe op dees aarde wil ons dié wat ons vyandig gesind is, liefhê?

Kom ons kyk na siekte. Nou dis waar, kanker is ’n vreesaanjaende siekte, ek stry nie daarmee nie. Maar as ek nou doodgaan van kanker, dan gaan ek hemel toe. Hoe verloor ek? Of as jy praat van ons paaie… Die ouens ry verskriklik! Jy hoef nie ’n dronk bestuurder te wees of iemand wat jaag op die pad vir jou lewe om in gevaar te wees nie. Maar hier is die ding: as my lewe geneem word a.g.v. iemand anders wat onverskillig of roekeloos is, dan gaan ek steeds hemel toe. My kaartjie is klaar gekoop. Ek is oukei. En in die hemel gaan daar geen meer vrees wees nie. Geen teleurstellings meer nie. Die Bybel sê Jesus self gaan ons trane afvee. Daar gaan geen sonde of misdaad wees nie. En ek en jy het hierdie hoop.

So in plaas daarvan om in vrees te leef en angstig te wees, bang te wees dat die Afrikaners uitgewis gaan word, kan ons in die hoop leef dat die wêreld klaar oorwin is. Ons is meer as oorwinnaars deur Christus wat ons die krag gee. Ons fight nie vanuit ’n verloor-posisie nie. Ons het klaar gewen, want Jesus het klaar die prys betaal. Ek en jy kan nie verloor nie. Al waar ek en jy kan verloor, is as ons ons rug draai op die geloof. Ek wil jou bemoedig, liewe leser, as jy wedergebore is, stoei vir jou geloof. Hou vas daaraan. Moenie dat mense vir jou jok oor ander gelowe of dinge nie. Staan vas in wat jy glo. Kom ons leef in oorwinning en nie in vrees nie.

(Foto: https://unsplash.com/@alexagorn)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published.