I love it when a plan comes together – Afrikaans

Ek het grootgeword met die A-team. Daar was BA Baracus met sy Mohawk haarstyl en kettings en Murdock die mal vlieënier. Al die meisies was mal oor Face en natuurlik was Hannibal die leier en meesterbrein agter elke operasie. Die reeks was belaai met spanning, maar die hoogtepunt van elke episode was wanneer Hannibal sy sigaar in sy mond sit en sê: “I love it when a plan comes together.” Dit was die klimaks na al die aksie en ontploffings. Die volgende dag by die skool sou elke jong laaitie sy pen in sy mond sit en die woorde herhaal: “I love it when a plan comes together.”

Die waarheid is egter dat die lewe nie so goed uitwerk soos Hannibal se planne nie. Dis selde dat dinge gebeur soos ons dit in gedagte het. Jy beplan ’n lekker vakansie saam met jou familie en jou baas se jy kan nie verlof kry nie. Of jy spaar elke maand ’n bietjie geld want jy wil die dak regmaak voor die reënseisoen kom, en dan breek jou seun sy arm en jou spaargeldjies droog op soos ’n fonteintjie in die woestyn. Jy besluit om ’n besigheid te begin sodat jy finansieel vryer kan wees en dan tuimel die ekonomie inmekaar as gevolg van ’n resessie en jy is slegter af as voorheen. Die lewe is onvoorspelbaar, om die minste te sê!

Dit is nou maar eenmaal so dat ons nie kan bepaal/beheer wat met ons gebeur nie, maar ons kan besluit wat in ons gebeur. Met ander woorde ons emosies is direk gekoppel aan ons ervaring, maar ons kan kies hoe om te reageer op ons emosies. Die lewe is soms onregverdig, maar ons kan kies met watter gesindheid ons gaan lewe.

Ek glo dat ons nie ’n produk van ons omstandighede is nie, maar eeder van ons keuses. In Deuteronomium sê die Here: ”Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” Dit is so dat hierdie gedeelte ’n konteks het, maar hier is wel ’n beginsel ter sprake wat impliseer dat ons ’n keuse moet uitoefen.

God het alles gedoen om Israel te red, maar hulle moes steeds lewe kies. Net so ook in die Nuwe Testament het Jesus aan ’n Romeinse kruis vir ons gehang, maar ek en jy moet nog steeds lewe kies. Ons moet Hom kies, bo onsself. Dit is ’n beginsel wat geld vir elke aspek van ons lewens. En so ook wanneer dit kom by ons gesindheid. Gaan jy aanhou om ’n verloorder-mentaliteit te openbaar of is jy meer as ’n oorwinnaar? Gaan jy op ’n Bybelse manier reageer teenoor jou omstandighede of gaan jy vleeslik optree? Die keuse is joune.

Sal jy die Here dien ten spyte van jou finansies of jou gesondheid? Sal jy Hom dien op ’n manier wat eer bring aan Sy Naam, al gaan dit soms broekskeur? Sal jy die Here dien al wil niemand anders nie? Sal jy die Here dien al word dit dalk onwettig in ons land? Sal jy vir Hom lewe of sal jy die dood kies? Die keuse bly joune.

Ons was geskep om te oorwin ten spyte van die ongelooflike seer en slegte dinge wat ons soms moet trotseer. Ons was gekep om te lewe en te lewe met ’n gesindheid wat God eer, ongeag die omstandighede. Sal jy vandag saam met my kies om te lewe?

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *