Hoe om heilig te leef in ‘n goddelose wêreld

Het jy ’n begeerte om meer heilig te wees in hierdie chaotiese wêreld? Wil jy graag meer soos Jesus leef, maar die wêreld en sy dinge trek jou in die teenoorgestelde rigting? Jy is nie alleen nie. Alle Christene stoei met heiligmaking. My persoonlike oortuiging is dat die antwoord te vinde is in die eerste twee verse van Psalm 1:

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Vers 1 waarsku ons om die advies van goddelose mense te vermy, en vers 2 gaan daaroor om raad te ontvang vanuit die Woord van God. Ek glo dat die meeste mense in hul geestelike lewe misluk as gevolg van swak advies.

Ons as mense het die geneigdheid om slegte raad te glo en ons rug op goeie invloede te draai. Maar ’n Godvresende persoon sal hom/haar laat beïnvloed deur mense wat goeie en Goddelike aanbevelings maak. As jy ’n lewe wil leef wat Christus weerspieël, sal jy ’n besluit moet neem om jouself te omring met positiewe, Godvresende en wyse mense. Maar jy sal ook ontslae moet raak van diegene wat jou beïnvloed om te sondig. Dit is oukei om ’n vriend of 2 te hê wat nie Christene is nie, mits hulle jou nie van God af weg trek nie. Jy behoort daardie persone ten goede te beïnvloed. Dit is natuurlik ook baie wys om vriende te hê wat saam met jou die Here dien, mense wat graag meer en meer soos Jesus wil word. Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander (Spreuke 27:17).

Ek wil ook graag iets sê oor dít wat ons ontspanning noem. Daar is baie immorele vermaak vandag. As jy goddelose programme op die televisie of die internet kyk, sal dit nie vreemd wees as jy sukkel met heiligmaking nie. Jy kan nie verwag om deur modder te swem en skoon anderkant uit kom nie. Dit is soms so eenvoudig soos dit. Sommige dinge is ons as kinders van die Here net nie beskore nie.

Die tweede deel van hierdie Skrifgedeelte handel daaroor om jou behae in die Woord van God te vind. Ek dink dit gaan nie soseer daaroor om die Bybel te geniet nie, maar wel om die Bybel te kies. Hoe meer jy egter die Bybel kies in jou alledaagse lewe, hoe meer sal jy dit ook geniet.’n Ou bekende predikant het altyd gesê die Bybel is soos brandewyn: eers vat jy hom en dan vat hy jou! Maak ’n gewoonte daarvan om jou Bybel daagliks te lees en onthou om dit toe te pas. Namate jy die Bybel meer en meer lees, sal jy reg dink oor die lewe, en hoe meer jy reg dink, hoe meer gaan jy reg lewe. Die antwoord vir ’n goeie en heilige lewe word net gevind tussen die blaaie van jou Bybel.

Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. (Joshua 1:8) 

Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U Woord. (Psalm 119:9) 

U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. (Psalm 119:105)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *