Jesus is die Een

Christenskap is meer as net ’n siening of ’n stel reels waarvolgens jy moet leef. Ware Christenskap gaan oor ’n persoon: Jesus. Hy is die pionier van ons geloof. Hy is die essensie van die Christen se lewe – nie net in ’n historiese sin nie, maar ook in ’n teenwoordige en lewende verhouding. Ek en jy kan glo dat Jesus tweeduisend jaar gelede gelewe het, maar as ek en jy Hom nie vandag aanvaar as ons koning en verlosser nie, beteken dit eintlik niks nie.

Vir die ware kind van God is Jesus nie net iemand wat baie jare terug geleef het nie, maar Hy is NOU ’n werklikheid. Hy is NOU ons vriend en verlosser. Hy is NOU ons middelaar tot God. Hy is NOU ons bron van vrede en vergenoegtheid. Nie gister of môre nie, maar VANDAG. En as ons NOU ons vertroue op Hom plaas, verander Hy ons lewens totaal en al.

Hy gee my hoop en vertroosting in hierdie moeilike en onstuimige tyd. Hy vergewe al my sondes in ‘n oogwink as ek Hom vra om my te red. Hy sal my nooit in die steek laat nie, maak nie saak wat die wêreld my kant toe gooi of wat die regering aanvang nie. Hy is my vriend en hy is aan my kant – nie oor iets wat ek gedoen het of omdat ek ‘n mooi lewe leef nie, Maar omdat Hy my liefhet en aan ’n kruis gesterf het vir my.  Ek moet net op Hom staat maak om my te red en nie iemand anders nie. Hy alleen het die sleutels tot die ewige lewe net Hy alleen kan red van sonde.

Baie van ons dink egter “ek moet soet word, dan kan Hy my red” of “ek moet eers kerk toe gaan, dan kan Jesus my liefhê”.  Maar as dit waar is, is ons almal in die moeilikheid, want die Bybel is duidelik dat ons almal gesondig het en ontbreek aan die heerlikheid van God (Rom 3:23). Daar is net in een persoon redding en vergifnis te vind. Net in een persoon is daar die belofte van die ewige lewe. En dit is Jesus Christus. Niemand anders nie.

Hy het jou so lief, liewe leser! Hy wil jou red. Hy het klaar die prys betaal vir jou redding. Maar jy moet Hom vertrou om dit te kan ontvang. Want die loon van die sonde is die dood, maar die GENADEGAWE van God is die EWIGE LEWE in Christus Jesus, onse Here. – Rom 6:23  Will jy nie vandag jou hart oopmaak vir Jesus nie? Wil jy Hom nie vra om jou te verlos nie? Doen dit sommer nou asseblief. Jy het dalk nie môre nie – ons weet nooit hoeveel tyd aan ons gegee is op hierdie aarde nie. Gaan NOU op jou knieë en vra Hom om jou te vergewe en om vir jou ’n nuwe lewe te gee.

(Foto: https://unsplash.com/@jontyson)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *