Hou koers!

In die weermag leer hulle ‘n ou allerlei dinge – van hoe om jou skoene te politoer tot om ‘n hand-granaat te gooi. Ek het baie dinge geniet in die weermag. Dit was ‘n plek waar ‘n laaitie skielik groot word… wel, sommige laaities! Ons was onder andere ook geleer om ‘n kompas te gebruik. Die korporaal het ons verduidelik wat is ware-  en magnetiese Noord. Ons was ook geleer om ‘n kaart te lees.

Ek onthou hoe hulle ons eendag afgelaai het op ‘n heuwel. Elke ou het 2 rat packs en 4 liter water gekry. Toe was ons in groepe van vier ingedeel met een kaart en een kompas per groep. Jy het ‘n sekere tyd gehad om by jou eindbesteming aan te kom en bewaar jou siel as jy laat was! Ons het een ou gekies om die kaartwerk te doen en een ou om die kompas te gebruik. Ek en die ander persoon sou al die bagasie dra.

Ons was dou-voor-dag afgelaai en het basies 48 uur gehad om ons rendezvous te bereik. Die eerste ding wat ons moes doen, was om uit te werk waar ons op die kaart was en dan die rigting te bepaal wat ons moes inslaan. Dan eers kon ons begin stap.

Dit is net jy en jou 3 makkers en die bosse om jou. Met so ‘n oefening kan baie dinge verkeerd gaan! As jou kompas ‘n klein bietjie uit is of as jou kaart nie 100% akkuraat is nie, gaan jy verdwaal. Binne twee ure kom ons toe op ‘n rivier af en dit is toe dat ons besef ons het iewers ‘n fout gemaak, want daar is nie ‘n rivier op die kaart wat ons gebruik nie. Ons stop toe en bestudeer weer die kaart en besef ons het in die teenoorgestelde rigting beweeg! Ons moes al die pad terug loop en weer van voor af begin.

Ons was nou reeds 4 ure later as wat ons moes wees. Ons het besluit ons gaan baie vinnig wees en nie regtig stop vir enigiets nie, net ‘n klein rukkie om bietjie te eet en drink. Maar in ons haas het die ou wat in beheer was van die kompas, dit nie heeltemal reg gebruik nie. Ons het heeltemal verdwaal! Hulle het ‘n soektog geloods om ons te kom kry en ons ‘n hele dag later eers opgespoor.

Dit is ook so in ons geestelike lewe. Ons het ‘n kaart – die Bybel – en ons het ‘n kompas – die Heilige Gees. As jy nie die Bybel reg lees nie, gaan jy verdwaal. En as jy nie na die Heilige Gees luister nie, is die uiteinde óók verdwaal! Jy het beide nodig in jou lewe om ‘n akkurate koers in te slaan.

Kom ons lees ons Bybels en luister na die Gees van God elke dag, dan sal ons die wil van God doen en ons sal ons eindbestemming bereik sonder issues.

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *