Ewigheidsperspektief

Ons het so paar jaar terug een van die slegste weke beleef as ‘n gesin. Ons hond is deur ‘n kar getrap en is ‘n week later dood. Die volgende dag het ‘n ou met lang vingers besluit om by ons te kom kuier terwyl ons nie tuis was nie. Kort daarna het hy sommer nog twee keer besoek kom aflê om seker te maak hy het niks gemis nie. Hy is weg met twee rekenaars en ‘n skootrekenaar, ons krane, ‘n klomp gereedskap asook ‘n alarm sisteem. Om alles te kroon, het ons drukpomp ook intussen besluit om die gees te gee. Dit beteken ons het nie genoeg waterdruk gehad om die geiser te gebruik en warm water te hê nie. En dit was winter!

Dit voel soms onregverdig as dinge soos dié gebeur. Ek meen, ek leef immers ‘n goeie lewe. Ek maak nie mense seer nie. Ek steel nie. Ek gaan kerk toe. Ek bid en lees my Bybel elke dag. Reg, so hoekom gebeur slegte ding met goeie mense? Hoekom beskerm God my dan nie hiervan nie? Dit is alles geldige vrae. Maar die antwoord is soms so ‘n bietjie ontwykend.

Sien, liewe leser, ek en jy dink aan hierdie lewe as ons die vraag vra “hoekom het dit met my gebeur?” Want in hierdie lewe is dit geld en aansien wat my lewe betekenis gee. Hoe meer dinge ek het en hoe meer mense van my hou, hoe beter. En wanneer iemand my slegsê of my goed steel, dan raak hulle aan daardie aspek van my lewe. Maar vir die Christen is daar méér.

Ons het iets anders wat die lewe sin gee. Daar is vir ons ‘n plek waar ons eendag vir ewig met ons God verenig gaan word. Die hemel is ‘n werklikheid vir die kind van God. En dit is die hoop wat ons het: hierdie lewe en al sy dinge is van verbygaande aard, maar die ewige lewe is vir altyd. Daarom moet ons leef nie vir dié lewe nie, maar vir die een wat kom. Ja, jy mag besittings hê en selfs aansien geniet, maar as dít is wat jou lewe betekenisvol maak, het jy moeilik-heid, want jy kan alles in ‘n oogwink verloor.

Daar is deesdae sprake dat die staat selfs ons eiendom kan vat. Maar as ‘n kind van God het ek eiendom waaraan die regering nie kan raak nie. Skelms kan nie my ware skatte steel nie. Ek leef nie vir NOU nie, maar vir die dag wanneer Jesus my kom haal. Ek het ‘n belofte van God self dat daar vir my ‘n plek voorberei word in die hemel (Joh 14:1-3). Kom ons as kinders van die Here fokus nie meer op die dinge van hierdie lewe nie, maar kom ons plaas ons fokus op dinge wat ewigheidswaarde het.

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. – Matt 6:19-21

(Foto: https://unsplash.com/photos/PdXqqLO6jtw)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *