Byt vas!

Daar is ’n eienskap wat ons as kinders van die Here nodig het vandag. Ongelukkig word daar nie baie daaroor gepraat of selfs gepreek nie: die vermoë om vas te byt wanneer dinge taai raak. Die Engelse woord is endurance. Om uit te hou en aan te hou. Die Bybel beskryf die Christelike lewe as ’n resies en op ander plekke as ’n oorlog. Die realiteit is dat beide ’n sodaat en sowel as ’n atleet nêrens kom sonder uithouvermoë nie.

Ek praat nou die dag met my swaer oor die toestand van ons land en of dit nie dalk net beter is vir my en my gesin om net te emmigreer nie. Die waarheid is dat dit nie vir my moontlik is nie. En die meeste van ons in Suid-Afrika het nie noodwendig die geleentheid om na ’n ander land te gaan en van vooraf te begin nie. So wat moet ’n ou nou eintlik maak as dit donker begin lyk in jou land en selfs in jou dorp? Wat maak ’n mens as misdaad jou direk raak of as ons president sê hy gaan ons grond wegvat?

Wel, daar is net een van twee dinge om te doen (1) te gaan lê en oor te gee of (2) om moed te skep en vas te byt. As Christen glo ek net nommer twee is regtig ‘n opsie. As my lewe aan Jesus behoort, dan kan misdaad nie my einddoel verander nie. Kom ek sê dit anders: as ek in Jesus glo (en daarom die ewige lewe het), kan niks wat ’n skelm doen my keer om hemel toe te gaan nie. Hy kan my goed steel maar nie my siel nie. En dit is die eerste troos wat ons het: dat selfs die slegste ding soos die dood vir ’n ware Christen nie gevaar inhou nie. Want die hemel is ’n realiteit. My eindbesteming is vas in die Here.

Die tweede troos wat ons het is dat die Here Jesus het ons nie sonder wapens gelos nie.  Ons eerste wapen is gebed. Ons kan letterlik die wêreld verander deur tot God te nader.  Kom ons bid vir ons land en al sy mense. Bid vir President Cyril Ramaphosa. Bid vir ons polisie, bid vir ons onderwysers en selfs vir ons munisipaliteite. Kom ons soek die Here se aangesig vir ons land.

Die volgende wapen wat ons as kinders van God het, is om ons medemens lief te hê. Die Bybel is duidelik dat ons ons naaste moet liefhê. Hy sê selfs dat ons ons vyande moet liefhê. Liefde is nie swak nie, dit is kragtig. As ons net begin om die mense om ons lief te hê en met gesonde respek te hanteer, sal die klimaat in ons land verander. As elke Christen in Suid-Afrika sy naaste liefhet sal ons die beste land hê in die wêreld! Kom ons neem hierdie opdrag van ons Koning ernstig op en leef dit uit elke dag.

Die laaste wapen wat ons besit is die vermoë om gehoorsaam te wees aan God. Regdeur die Bybel kan ons sien dat wonderwerke oorvloedig is wanneer mense gehoorsaam is. Dit is net so.

Kom laat ons as Christene ophou negatief wees oor ons land en word weer positief oor die Here wat saam met ons stry.

(Foto: https://unsplash.com/photos/vw6bhQOU7rw)

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *