‘n Hoopvolle Toekoms

Ek is nou 45 jaar oud, maar sommige dae voel dit kompleet asof ek 85 is! Prys die Here dat daar dae is wat ek heelwat jonger voel. Ek glo dit het baie te doen met hoop. Ek het besef dat wanneer ek ’n positiewe verwagting het, ek sommer soos ’n tiener laaitie voel net voor hy iets dom saam met sy pêlle aanvang. Daar is egter baie dae wat ek seker is iets gaan verkeerd loop. Ek, net soos die meeste mense van my ouderdom, stres oor die dinge van die lewe – dinge soos misdaad, politiek en geld. Maar as ’n tiener het ek nooit eers aan enige van daai dinge gedink nie. En ek het ’n ton en half hoop gehad. Ek het hoop gehad vir ’n blink toekoms en natuurlik het ek ook gehoop vir daai spesiale meisie. Ek het gehoop dat my lewe betekenisvol sal wees.

Ek glo dat God ons geskape het om te hoop – om ’n positiewe vooruitsig te hê en nie die slegste te verwag in die lewe nie. Maar ai tog, die mens het ’n manier om alewig op die negatiewe te fokus. Ons glo dat teëspoed onvermydelik is en as daar wel iets goed gebeur, dan was dit maar ’n ou gelukkie. Ons sal byvoorbeeld sê dat iemand baie gelukkig was om ’n goeie werk te kry. Of daai vriend van my het ’n goeie huwelik, hy was gelukkig om so ’n goeie vrou te kry. Maar wanneer ek eerlik na my lewe kyk, dan moet ek bieg dat daar meer goeie as slegte dinge met my gebeur. Ek sien dit net nie altyd raak nie.

So omdat ons die slegte in ons lewe raaksien en nie die goeie nie, glip hoop by die agterdeur uit.  Ons stres en bekommer onsself oor dinge wat dikwels nie eers realiseer nie. Dit is waar dat die lewe elkeen van ons so nou en dan ’n dwarsklap gee, maar ons as Christene weet dat selfs die slegste dinge ons nie kan vernietig nie. Jy sien liewe leser, ons het ’n God wat ons liefhet en wat ons kan uithelp selfs in die moeilikste van omstandighede.

Ons Hemelse Vader reageer egter nie net as ons in die pekel is nie. Inteendeel, Hy sê in Sy Woord dat Hy ’n definitiewe plan het vir Sy kinders, en dit behoort jou hoop te gee. “U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie” (Psalm 139:16). Hierdie is ’n positiewe hoop, want God het net die beste in stoor vir Sy kinders. “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor 2:9). Dit is ’n hoop wat ons as Sy kinders bekragtig en bemoedig. Ons behoort nie angstig of bekommerd of oor enigiets besorg te wees nie. Nie omdat alles in ons land oukei gaan wees nie, maar ons het hoop omdat ons weet dat hierdie gebroke wêreld met al sy misdaad, siektes en korrupte regerings slegs tydelik is.

Daar is ’n toekoms wanneer die tydelike verby is – ’n toekoms wat jou wildste drome oortref; ’n toekoms met geen vrees of siekte nie. Daar sal geen korrupte politici of misdadigers wees nie. Dit is ’n toekoms waar vrede heers. Die hemel is ons eindbesteming. Dit is die hoopvolle toekoms vir die kind van die Here.

Share and Enjoy !

About the author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *